Profits (Maize) (935 words)								Afrikaans



Waardetoevoeging – kan dit wins verhoog?



Instructions: 

Folio strap: Waardetoevoeging

Byline: Jenny Mathews, voorsitter van die Graan SA Ontwikkelingsprogram vir Boere



Die proses van waardetoevoeging is in sekere gevalle ‘n suksesvolle strategie vir produsente om hulle winsmarges te verhoog en hulle boerderybedrywighede moontlik te maak. Waardetoevoeging is in ‘n neutedop die verwerking van produkte om sodoende ‘n hoër waarde toe te voeg.



Wat is waardetoevoeging?

Om waarde toe te voeg tot die gewas, beteken om betrokke te raak by die waardeketting deur middel van verwerking van die plaas se produkte op een of ander manier. Hierdie proses beteken gewoonlik dat die produsent moet belê in verdere bedrywighede soos om ekstra persone aan te stel of om ander toerusting aan te skaf. Versigtige berekeninge is dus nodig om te verseker dat winste gemaak word na die waardetoevoegingsproses. Hierdie berekenings moet egter nie net eenmalig gedoen word nie, aangesien pryse wisselvallig is en veranderings in die markomgewing plaasvind en dit die berekeninge beïnvloed, sodat die waardetoevoegingsproses sekere tye winsgewend kan wees en ander tye nie.

	

Hoekom moet produsente betrokke raak by die waardetoevoegingsproses?

Te dikwels is produsente die prysnemers en nie die prysmakers nie. Dit beteken dat die kopers van die plaasprodukte bepaal wat betaal sal word vir die produk en produsente nie die bedingingsmag het om ‘n beter prys te beding nie. Produsente moet gevolglik moontlike maniere oorweeg om in die waardetoevoeging te kan deel nadat die produk die plaas verlaat het, deurdat hulle die produksieproses plaaslik so ekonomies as moontlik te hou.



Waardetoevoeging tot mielies

Die huidige 2010 mielieprys is baie laag en mielieprodusente moet enige moontlike opsies oorweeg om die potensiële inkomste van hulle gewas te verhoog. ‘n Eenvoudige berekening kan byvoorbeeld gedoen word om die winspotensiaal te bepaal om waarde toe te voeg deur die mielies te maal vir mieliemeel.



Kom ons doen ‘n berekening deur te aanvaar dat een ton wit mielies vir R1 000,00 verkoop kan word. In plaas daarvan dat Mnr Boer die mielies aan die plaaslike koöperasie verkoop, kan hy die mielies omskep in mieliemeel vir menslike gebruik. Dit kan gedoen word deur óf self die mielies te maal, óf dit na ‘n meule te neem waar dit verwerk kan word tot meel en hy dan net die mieliemeel daar kan gaan haal.



Opsie een

Mnr Boer kan die langtermynvoordele opweeg deur die mielies op sy eie plaas te maal en ook sodoende ‘n Mnr Meule-eienaar te word. Hy moet die volgende oorweeg:

Het hy spasie op sy eie eiendom of sal hy eiendom moet huur?

Watter gesondheidsregulasies sal hy aan moet voldoen en wat sal dit kos?

Watter toerusting benodig hy en sal die uitgawes die moeite werd wees oor die langtermyn, byvoorbeeld meule, skale, awegaar, mengers en masjinerie vir die stik van die sakke, ensovoorts?

Watter verpakking sal hy benodig en waarvandaan sal hy dit verkry?

Wat sal die koste van ‘n embleem ontwerp, die prys van goedere en ‘n handelsmerk wees?

Sal hy ekstra arbeiders benodig?

Waar sal die mieliemeel bemark word?





Hierdie strategie is ‘n langtermyn verbintenis van Mnr Boer aan die meule wat in ag geneem moet word. 



Opsie twee

‘n Ander opsie vir Mnr Boer is om sy witmielies na ‘n meule in die omgewing te neem vir verwerking na mieliemeel. Hierdie is ‘n meer aanpasbare opsie wat Mnr Boer in staat stel om die winsmarge te verhoog indien pryse vir mielies baie laag is, of die onverwerkte mielies te verkoop indien die markprys reg is. Dit verg geen verdere kapitale belegging nie, maar gee wel die geleentheid vir waardetoevoeging. Elke produsent moet egter sy eie huiswerk in sy eie gebied doen. 



My plaaslike Mnr Meule-eienaar het die volgende koste vir Mei 2010 bereken:

20% maalverlies, aangesien die vesel en byproduk deur Mnr Meule-eienaar gehou word as deel van die maalkoste.

Dit beteken dat ek 800 kg mieliemeel sal ontvang vir my 1 000 kg mielies.

Daar is ook ‘n addisionele R320 kontant maalkoste vir die dienste deur Mnr Meule Eienaar gelewer.



Die berekeninge lyk soos volg:

1 000 ton mielies - 20% maalkoste (200 kg vessel en byproduk) = 

slegs 800 kg mieliemeel 

Maar 800 kg mieliemeel wat in presies die regte grootte sakke verpak sal word, kan verkoop word teen ‘n minimale koste van die huidige koers van R2,20 per kilogram.



Mieliemeel – 800 kg x R2,20/kg 					= 		R1 760 

Minus die maalkoste						= 		R 320

Kontant in die sak van dieselfde een ton mielies			=		R1 440

Waarde van die waardetoevoeging vir elke ton gemaal	=		R 440 



Daar is baie voordele as gevolg van hierdie strategie:

Plaaslike ekonomiese aktiwiteit word gestimuleer;

Die produsent trek voordeel uit ‘n groter markaandeel;

Landelike ekonomiese voordele; en

Plaaslike werkskepping vind plaas.



Daar is baie verskillende aspekte van waardetoevoeging wat gebruik kan word. Hoe winsgewend is dit om Mnr Boer se mielies te gebruik as veevoer vir hoenders, varke, skape of beeste? Wat is die voordele vir mielieprodusente indien etanol industrieel bemark word? Sal Mnr Boer meer geld vir sy mielies kry aan die einde van die waardeketting waar hy homself betrek het? Ons sal vorentoe ander prosesse meer in diepte bestudeer.





